SuperSportSchools Cricket

Affies behou titel as Noordelikes se kampioen

By Hannes Nienaber , in cricket Cricket | News News , at 16 October 2017

NewsGHermanRolfesDie Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se eerste krieketspan het sy titel as kampioen van die Noordelikes-liga suksesvol verdedig. Affies het Saterdag vir Pretoria Boys’ High met 28 lopies in sy laaste ligawedstryd van die jaar geklop om seker van die titel te maak. 

Herman Rolfes (115), aanvangskolwer van Affies, het met sy honderdtal sy span tot 246/7 in sy toegelate 50 boulbeurte gehelp. Rolfes het 135 aflewerings in sy beurt trotseer en 13 viere en ‘n ses gemoker. Hy het goeie ondersteuning van Ximus du Plooy (45) gekry. Die twee het ‘n vennootskap van 93 lopies om die vierde paaltjie gedeel. 

Christopher Britz was Pretoria Boys’ High se beste bouler met boulsyfers van 3/42. 

Pretoria Boys’ High is in die voorlaaste boulbeurt vir 218 lopies uitgeboul. Britz het as aanvangskolwers met 86 lopies ook Pretoria Boys’ High se aanslag met die kolf gelei. 

Luan van Strijp het die meeste van die skade met die bal aangerig. Hy het van drie kolwers vir 43 lopies ontslae geraak. Hy het ook Britz se paaltjie ingeoes met die hulp van Coenraad Pretorius wat die vangskoot waargeneem het. 

Pretoria Boys’ High en Affies het elk voor die kragmeting 24 ligapunte ingesamel. Die wedstryd het dus as ‘n “eindstryd” gedien. 

Garsfontein het Waterkloof met 20 lopies verslaan om die derde plek in die liga in te neem. Garsies en Klofies sal eerskomende Saterdag in die kwarteindronde van die Gunn & Moore Noordvaal-reeks weer sake teen mekaar uitspook. 

Garsfontein se held was sy aanvangsbouler, Marco van Biljon, wat van vier kolwers van Klofies vir slegs 34 lopies ontslae geraak het. Klofies wat tweede gekolf het kon slegs 168 lopies aanteken, met Juandro Jooste (55) wat die meeste weerstand met die kolf gebied het. 

Garsies se Juandre Scheepers (68) het die grootste bydrae met die kolf tot sy span se 188 lopies gelewer. 

Beknopte telkaarte: 

Affies 246/7 (Herman Rolfes 115, Ximus du Plooy 45, Francois Joubert 30; Christopher Britz 3/42); Pretoria Boys’ High 218 (Christopher Britz 86; Luan van Strijp 3/43, Ximus du Plooy 2/29). Affies wen met 28 lopies

Garsfontein 188 (Juandre Scheepers 68, SW Kemp 49, Robert Ferreira 31; Eben Botha 3/40, Gideon Peters 2/21, Sean du Plooy 2/28); Waterkloof 168 (Juandro Jooste 55, Eben Botha 32; Marco van Biljoen 4/34, Rynard van Niekerk 3/39). Garsfontein wen met 20 lopies

Comments


Leave a Reply