De Bruyn help Klofies tot klinkende sege oor Potch Volkies met honderdtal
Die Hoërskool Waterkloof se eerste krieketspan is terug op die wenpad danksy ‘n honderdtal deur Simeon de Bruyn (101) is sy derde wedstryd in die A-afdeling van die Finsbury-liga teen Potchefstroom Volkskool.
De Bruyn het met sy honderdtal van 104 aflewerings wat slegs agt grenshoue ingesluit het die Klofies gehelp om ‘n stewige 284/7 in sy toegelate 50 boulbeurte aan te teken. De Bruyn het goeie ondersteuning eers vanaf Hardus Coetzer (60) en daarna vanaf Zander Mare (70) ontvang.
Coetzer en De Bruyn het ‘n vennootskap van 133 lopies om die vierde paaltjie gedeel. Daarna het Mare ne De Bruyn kragte vir ‘n vennootskap van 80 lopies om die vyfde paaltjie saamgespan.
Potch Volkies kon net 103 lopies in antwoord op Waterkloof se totaal aanteken met Christiaan Bester (46) wat amper die helfte van sy span se lopies aangeteken het. Kyle Welman het met sy regterhandse bybreekboulwerk die meeste skade met ‘n boulontleding van 3/14 aangerig.
Die Hoërskool Centurion het sy onoorwonne status behou deur die Hoërskool Nelspruit met 92 lopies te klop. Die Woeries het 222 lopies behaal danksy vyftigtalle deur Damian Groenewald (55) en Nathan Wentzel (55).
Nelspruit se Rohan de Meyer het van vier kolwers vir slegs 32 lopies ontslae geraak. De Meyer was daarna met die kolf ook die enigste speler in sy span wat hond haaraf kon maak. Hy het 37 van sy span se 130 lopies aangeteken.
Menlopark het ook nie veel probleme ondervind om oor die Hoërskool Rustenburg met 184 lopies koning te kraai nie. Die Parkies het 252 lopies behaal danksy bydraes deur Wybri Thuynsma (52), Kian Heuer (42), Johnny van der Schyff (41), Corné Burger (31) en Justin Fourie (30).
Rusties is daarna vir net 68 uitgeboender na Menlopark se aanvangsboulers Janno van Zyl (2/9) en Fourie (2/10) met hul openingskof die tuisspan se toporde laat steier. Daarna het Sebastian Strydom (3/19) met sy boulwerk die Rusties gekasty.
Beknopte telkaarte:
Waterkloof 284/7 (Simeon de Bruyn 101, Zander Mare 70, Hardus Coetzer 60; Corné Prinsloo 2/48, Christopher de Freitas 2/53); Potchefstroom Volkskool 103 (Christiaan Bester 46; Kyle Welman 3/14, SW Kemp 2/18). Waterkloof wen met 181 lopies.
Hoërskool Centurion 222 (Damian Groenewald 55, Nathan Wentzel 55, Jonathan Vorster 36; Rohan de Meyer 4/32, Renier Holtzhausen 2/48, Hannes Feuth 2/49); Hoërskool Nelspruit 130 (Rohan de Meyer 37, Ekstras 27; Henré Hayes 2/8, Jonathan Vorster 2/17, Conrad Mouton 2/23). Centurion wen met 92 lopies.
Hoërskool Menlopark 252 (Wybri Thuynsma 52, Kian Heuer 42, Johnny van der Schyff 41, Corné Burger 31, Justin Fourie 30; Nathan van der Westhuizen 2/39, Rico Fryer 2/43, Charl Naudé 2/50); Hoërskool Rustenburg 68 (Nicklis van Onselen 23; Sebastian Strydom 3/19, Janno van Zyl 2/9, Justin Fourie 2/10). Menlopark wen met 184 lopies.
[powr-comments id=”6d438bc8_1580635135147″]
Comments