SuperSportSchools Cricket

Dis Waterkloof teen Nelspruit om titel

By Hannes Nienaber , in News , at 30 October 2017

Die eerste krieketspan van die Hoërskool Waterkloof sal sy titel as kampioen van die Gunn & Moore Noordvaal-reeks Saterdag teen Hoërskool Nelspruit op Uplands College se hoofveld in Witrivier probeer verdedig. Klofies het Saterdag teen EG Jansen van Boksburg met ‘n sege van 36 lopies sy plek in die eindstryd bespreek. 

Waterkloof het eerste gekolf en is vir slegs 159 lopies in die 36ste boulbeurt uitgeboul. ‘n Sekere kolwer met die naam Ekstras het met 32 lopies die grootste bydrae tot Klofies se beurt gemaak. Keagan Davies (29) en Gideon Peters (21) is die enigste ander kolwers wat meer as 20 lopies kon bydra. 

Die naatbouler Arni Enslin het van drie van Klofies se kolwers vir slegs 29 lopies ontslae geraak. Henk Bornman (3/40) het ook drie van Waterkloof se besoekers terug kleedkamer toe gestuur. 

EG Jansen kon slegs 123 lopies op Klofies se totaal antwoord. Maxwell Meyer (42) was goed oppad om sy span tot ‘n roemryke sege te lei voordat hy uitgeloop is. Waterkloodf se Peters was die beste bouler vir sy span. Hy het van vier kolwers vir slegs 24 lopies ontslae geraak. 

Sean du Plooy (3/28) het ook met sy draaiboulwerk heelwat probleme vir EG Jansen se kolwers besorg. 

In die ander halfeindstryd het Nelspruit oor te veel skietgoed vir Ben Vorster van Tzaneen beskik. 

Nelspruit het 179/9 in sy toegelate 40 boulbeurte op die Ben Vorster-ovaal danksy bydraes deur Divan Jacobs (45), Conrad Schultz (28) en Jacques Vosloo (20) aangeteken. Die kaptein Jacobs en Schultz se aanvangsvennootskap van 69 lopies was op die ou einde deurslaggewend. 

Ben Vorster se aanvangsbouler Johan Harms (3/27) het die meeste skade met die bal aangerig. Harms het ook 26 lopies met die kolf bygedra, terwyl sy span vir ‘n skamele 84 lopies uitgeknikker is. 

Jon Hinrichsen (4/29) en Divan Jacobs (4/20) het die meeste skade met die bal aangerig. 

Waterkloof het Saterdag ook vir Grey-kollege van Bloemfontein met ‘n jongspan gepak. Klofies het die wedstryd met 84 lopies gewen. Klofies beskik dus oor goeie diepte en behoort volgende jaar weer ‘n krag op die krieketveld te wees. 

Waterkloof se aanvangkolwer Ludwig Kaestner (75) het die grootse bydra tot sy span se totaal van 251/9 in sy toegelate 50 boulbeurte gemaak. 

Beknopte telkaarte: 

Waterkloof 159 (Ekstras 32, Keagan Davies 29, Sean du Plooy 17*; Anri Enslin 3/29, Henk Bornman 3/40); EG Jansen 123 (Maxwell Meyer 42; Gideon Peters 4/24, Sean du Plooy 3/28). Waterkloof wen met 36 lopies

Hoerskool Nelspruit 179/9 (Divan Jacobs 45, Conrad Schultz 28, Jacques Vosloo 20; Johan Harms 3/27); Ben Vorster 84 (Johan Harms 26; Divan Jacobs 4/20, Jon Hinrichsen 4/29). Nelspruit wen met 95 lopies

Waterkloof 251/9 (Ludwig Kaestner 75, Jordan Hermann 42, Juandre Jooste 42; Christiaan Neethling 3/36, Brian Kershaw 3/45); Grey-kollege 167 (CP Klijnhans 47, Armandio Cavaleiro 34; Hardus Coetzee 2/14). Waterkloof wen met 84 lopies.

Comments


Leave a Reply