Garsfontein staan tussen Klofies en vyfde titel
Waterkloof sal eerskomende Saterdag poog om vir die vyfde agtereenvolgende jaar as kampioen van die Gunn & Moore Noordvaalreeks gekroon te word. Die verdedigende kampioen het gister sy plek in die eindstryd met ‘n klinkende sege van ses paaltjies oor Monument in Krugersdorp behaal.
Klofies sal sy titel teen Garsfontein op Willowmoorepark in Benoni verdedig. Indien daar een span in die reeks was, wat daarin kon slaag om Waterkloof se partytjie te bederf sou dit Garsies wees. Garsfontein het die ligawedstryd tussen die twee spanne met 128 lopies gewen. Garsies se Juandré Scheepers was sy span se held in die sege met ‘n onoorwonne honderdtal (115*).
Monnas is vir slegs 66 lopies op sy tuisveld uitgeknikker. Klofies se jong naatbouler Hardus Coetzer het die meeste van die skade aangerig. Hy het van ses kolwers vir ‘n skamele 17 lopies ontslae geraak. Wernich van Dyk (2/6) en Albert Wells (2/12) het ook met hul boulwerk vir Monument probelem besorg.
Wells (29*) en Jandré Pretorius (19*) het Klofies na ‘n aanvanklike ineenstorting oor die eindstreep gekry. Monnas se Nathan Hoffman (2/23) en Dylan Lues (2/38) het elk van twee kolwers ontslae geraak.
Potchefstroom Volkskool was laas in 1995 in die eindstryd van die Noordvaal-reeks. Sy 279 lopies teen Garsies was ‘n goeie begin om hierdie droogte te verbreek. Garsies kon nog nooit die eindstryd haal nie.
Garsies se Reynecke Shaikh (3/34) en Ruben van Niekerk (3/50) het die beste met die bal in die hand gevaar. Die wenspan se Christiaan Oberholzer (114*) en Robert Ferreira (102) het met hul hondertalle asook ‘n vennootskap van 205 lopies seker gemaak dat hul span geskiedenis maak.
Beknopte telkaarte:
Monument 66 (Renato di Emidio 14, Ekstras 14; Hardus Coetzer 6/17, Wernich van Dyk 2/6, Albert Wells 2/12); Waterkloof 68/4 (Albert Wells 29*, Jandré Pretorius 19*; Nathan Hoffman 2/23, Dylan Lues 2/38). Waterkloof wen met ses paaltjies.
Potchefstroom Volkskool 279 ( ; Reynecke Shaikh 3/34, Ruben van Niekerk 3/50); Garsfontein 280/8 (Christiaan Oberholzer 114*, Robert Ferreira 102). Garsfontein wen met twee paaltjies.
Comments