Garsies eerste keer kampioen van die Noordvaal
Die naam van die Hoërskool Garsfontein is Saterdag vir die eerste keer ooit op die trofee van die Gunn & Moore Noordvaal-reeks gegraveer. Garsies het Waterkloof in die eindstryd van die reeks met twee paaltjies op St Alban’s College se ovaal in Pretoria verslaan.
Waterkloof was die verdedigende kampioen en het die vorige drie jaar die kroon gedra. Die laaste keer wat ‘n span buite Pretoria die kroon gedra het was in 2013 toe Marais Viljoen van Alberton die titel verower het.
Klofies het eerste in die eindstryd gekolf en daarin geslaag om 240/6 in sy toegelate 50 boulbeurte aan te teken. Simeon de Bruyn (62) het mete sy vyftigtal voor gevat voordat hy deur Raynard van Niekerk van die boulwerk van Juandré Scheepers uitgevang is.
Klofies se aanvangskolwer Ludwig Kaestner (49) het ook goed gekolf, maar hy is net voor sy vyftigtal deur Garsies se kapttein, Robert Ferreira, vanaf sy eie boulwerk uitgevang. De Bruyn en sy kaptein, Albert Wells (23) het ‘n vennootskap van 71 lopies om die vyfde paaltjie gedeel na ‘n insinking na Kaestner sy paaltjie verloor het.
Karel Verhoef (36*, 30b) en Johan Maritz (19*, 14b) het daarna kragte saamgespan om aansien aan Klofies se beurt te gee.
Die draaibouler Jethro Duigan (2/29) het in sy tien boulbeurte die meeste probleme vir Waterkloof se kolwers verskaf. Scheepers (2/46) in agt boulbeurte het met sy vaart ook ‘n paar manne laat bontstaan.
Garsies se aanvangskolwers, Raynard van Niekerk (72, 96b) en Ralff Schmidt (18, 56b), het baie geduldig gekolf om Klofies se aanvanklike aanslag die hoof te bied. Die twee se openingsvennootskap was 75 lopies.
Christiaan Oberholzer (46) het sy wilgerlat ook die praatwerk laat doen. Toe hy deur Kaestner van Jordan Hermann se boulwerk uitgevang is, was Garsies op ‘n stewige posisie van 175/3. Hermann was met sy draaiboulwerk ‘n angel in Garsies se vlees. Hy het met boulsyfers van 1/34 in sy tien boulbeurte gespog.
Die beste boulvertonings is egter deur Karel Verhoef gelewer. Hy het twee paaltjies ten koste van 16 lopies aan die einde van die beurt ingeoes. Wernich van Dyk (2/43) en die kaptein, Wells (2/48) het ook met goeie boulwerk vorendag gekom.
Scheepers (43) en Ruben van Niekerk (24) het ook belangrike bydraes met die kolf vir Garsfontien in die geskiedkundige sege gelewer.
Die reeks is die eerste keer in 1923 aangebied met Potchefstroom Volkskool wat as kampioen gekroon is. Daar is Saterdag met die eindstryd ook geskiedenis gemaak met die feit dat dit die eerste keer gebeeldsend was. Die wedstryd tussen die twee eerstespanne is regstreeks op DigiTV.co.za uitgesaai.
Beknopte telkaart:
Waterkloof 240/6 (Simeon de Bruyn 62, Ludwig Kaestner 49, Karel Verhoef 36*; Jethro Duigan 2/29, Juandré Scheepers 2/46); Garsfontein 241/8 (Raynard van Niekerk 62, Christiaan Oberholzer 46, Juandré Scheepers 43; Karel Verhoef 2/16, Wernich van Dyk 2/43, Albert Wells 2/48). Garsfontein wen met twee paaltjies.
Comments