Gauteng voorste span op Khaya Majola-week
Gauteng het geen twyfel gelaat dat hy die beste span in aksie op vanjaar se Coca-Cola Khaya Majola-week was nie. Die gasheer het die laaste dag van die toernooi as die enigste onoorwonne span betree en ‘n sterbelaaide Grens in die hoofwedstryd van die week oortuigend met nege paaltjies in die Wanderers-stadion geklop.
Grens het vier spelers in sy geledere gehad wat al vir die nasionale o.19-span diens gedoen het.
Gauteng se aanvangskolwer Richards (104*) het met sy honderdtal die grondslag gelê. Hy en Jacob Miltz (61*) het ‘n onoorwonne vennootskap van 144 lopies om die tweede paaltjie gedeel. Miltz het ook vyf vangskote in die veld benut wat sover vasgestel twee keer in die geskiedenis van die week vermag is.
Gauteng se voorslagbouler Curtis Campher (6/29) het te veel vrae aan Grens se kolwers gevra. Dit was slegs Qeshile (59) wat hond haaraf kon maak.
Campher het met 14 paaltjies saam met nog drie ander boulers die meeste paaltjies gedurende die week ingeoes. Campher het sy 14 stokke teen ‘n ongelooflike gemiddeld van 8.4 lopies per slagoffer laat spat.
Die ander vier boulers wat 14 paaltjies ingeoes het, was Sisonke Mazele (WP), Pheko Moletsane (Vrystaat) en Gideon Peters (Noordelikes).
Noordwes se Louis van Schalkwyk het met 283 lopies teen ‘n gemiddelde van 56.6 lopies per beurt die week as die voorste lopiemaker afgesluit.
KwaZulu-Natal Binneland se Sean Gilson (5/7) het met ‘n vyftal paaltjies sy span tot ‘n sege van 103 lopies oor KwaZulu-Natal gehelp.
Luke Holland (113*) het vir Oostelikes teen Limpopo ook ‘n honderdtal aangeteken. Hy en Aron Visser (62*) het ‘n onoorwonne vennootskap van 143 lopies om die derde paaltjie gedeel.
Namibië se Ben Shikongo (5/12) en Petrus Burger (5/15) het Noord-Kaap vir ‘n vernederende 31 uitgeknikker om aan hul span ‘n oorwinning 211 te gee.
Beknopte telkaarte:
Grens 193 (Sinethemba Qeshile 59, Luke Dallas 38; Curtis Campher 6/29); Gauteng 197/1 (Joshua Richards 104*, Jacob Miltz 61*). Gauteng wen met nege paaltjies.
Boland 166 (Laurentius Smit 40, Daniel du Plessis 34, Samuel Henderson 33; Cole Schoeman 2/24); Oostelike Provinsie 170/6 (Christopher Benjamin 42, Peter Jarvis 41; Achille Cloete 3/39, Marshin Jeftha 2/21). Oostelike Provinsie wen met vier paaltjies.
Westelike Provinsie 142/9 (Ekstras 25, Justin Broad 24; Hermann Rolfes 4/21, Gideon Peters 3/24); Noordelikes 145/3 (Christopher Britz 76*, Modiri Litheko 34; Umar Anthony 2/28). Noordelikes wen met sewe paaltjies.
Suidwestelike Distrikte 165 (Odin le Roux 45, Francois Barnard 38, Travis Ackermann; Donald Machalotsa 4/18); Vrystaat 168/5 (Ruan Cronjé 58*, Garnett Tarr 44; Reagan Rhode 2/41). Vrystaat wen met vyf paaltjies.
KwaZulu-Natal Binneland 203/9 (James Ritchie 52, Gareth Schreuder 52, Jared Campbell 28; Khwezi 3/40, Matthew Montgomery 2/24); KwaZulu-Natal 100 (Caleb Pillay 30; Sean Gilson 5/7, Kamogelo Selane 3/21). KwaZulu-Natal Binneland wen met 103 lopies.
Limpopo 213/9 (Glen Groenewald 62, Driaan Kruger 38; Sinenhlanhla Zwane 3/31, Carlton Mdluli 3/38); Oostelikes 214/2 (Luke Holland 113*, Aron Visser 62*). Oostelikes wen met agt paaltjies.
Mpumalanga 179 (Mongezi Mokoena 38, Jacques Vosloo 38; Cobus Crowther 3/31); Noordwes 136 (Louis van Schalkwyk 28; Jon Hinrichsen 3/20, Sean Nkosi 3/25, Jacques Vosloo 3/45). Mpumalanga wen met 43 lopies.
Namibië 242/9 (Gerhard Lottering 39, Jurgens-Hans Linde 36, Erich von Mollendorff 34); Noord-Kaap 31 (Relesego Mothibi 15*; Ben Shikongo 5/12, Petrus Burger 5/15). Namibië wen met 211 lopies.
Comments