Loting van Noord/Suid T20 bekend
Die verdedigende kampioen van die Noord/Suid T20-toernooi, die Hoërskool Menlopark, is saam met Wynberg Boys’ High, die Hoërskool Nelspruit en Northwood in Groep C vir vanjaar se kompetisie geloot.
Die toernooi vind van 3 tot 6 Oktober in Pretoria plaas.
Die Parkies het verlede jaar vir Centurion in die eindstryd met vyf paaltjies op Tukkies se ovaal verslaan. Die toernooi sal vanjaar vir die tweede keer aangebied word.
Waterkloof van Pretoria het ‘n strawwe loting gekry. Hy is saam met Diocesan College oftewel Bishops, St Stithians College en St Andrews in Groep A geloot.
Verlede jaar se naaswenner, Centurion, kan veral sterk teenstand van Grey-kollege en Rondebosch Boys’ High in Groep B verwag. Die Hoërskool Rustenburg voltooi die groep.
Grey-kollege het sedert hertoelating in 1991 twee van Suid-Afrika se kapteine in Kepler Wessels en Hansie Cronjé opgelewer. Rondebosch Boys’ High het internasionale krieketspelers soos Gary Kirsten, Jonathan Trott, Andrew Puttich, Michael Rippon en HD Ackerman deur die jare opgelewer.
In Groep D sal Potchefstroom Volkskool, Cornwall Hill College, SACS en Westville Boys’ High sake uitspook.
Die Groepe is:
Groep A: Waterkloof, Diocesan College, St Stithians College, St Andrews.
Groep B: Centurion, Rondebosch Boys’ High, Hoërskool Rustenburg, Grey-kollege.
Groep C: Menlopark, Wynberg Boys’ High, Hoërskool Nelspruit, Northwood.
Groep D: Cornwall Hill College, SACS, Potchefstroom Volkskool, Westville Boys’ High.
Comments