SuperSportSchools Cricket

Markram kaptein vir nasionale o.19-span

By Hannes Nienaber , in cricket Cricket | News News , at 9 January 2014 Tags: ,

STELLENBOSCH. – Die Titans se Aiden Markram sal die Suid-Afrikaanse o.19-span na die Wêreldbeker vir o.19-spanne na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) volgende maand aanvoer. Dié span is na afloop van die sesde Cubs-week hier aangekondig.

Dié toernooi was Markram se eerste nasionale o.19-toernooi wat hy bygewoon het. Hy was nooit op ‘n Khaya Majola-week in aksie nie. Hy was wel verlede jaar in die nasionale span wat aan ‘n vierhoekige reeks in Indië deelgeneem het.

Die Suid-Afrikaanse Skole-kaptein van 2013, Yaseen Valli is ook in die groep vir die wêreldbeker. Die keurders het daarop besluit om drie veelsydige spelers wat draaiboulers is in die groep in te sluit. Die trio Driaan Bruwer, Greg Oldfield en Valli sal op die draaiers vriendelike baanblaaie hulle man moet staan. Bruwer was die draaier in die nasionale skolespan van 2013.

Die draaier van die Knights, Sine Ntshona wat in Indië die nasionale span se ekonomieste bouler was, kon nie genoeg tydens die week doen om die keurders te oortuig nie.

Suid-Afrika se eerste kragmeting van dié toernooi teen die Wes-Indiese Eilande op 14 Februarie sal sy 50ste wees sedert hy in 1998 vir die eerste keer aan die toernooi deelgeneem het.

Suid-Afrika was al twee keer naaswenners van die toernooi. In 2002 in Nieu-Seeland het die span die knie teen Australië met spelers soos Hashim Amla, Ryan McLaren en Rory Kleinveldt gebuig. In 2008 in Maleisië moes die span met die tweede plek tevrede wees na Indië met Virat Kohli aan die spits die trofee verower het. Toe was spelers soos Wayne Parnell, Rilee Rossouw, Reeza Hendricks en Jonathan Vandiar in die Suid-Afrikaanse span.

Indië en Australië was al drie keer wêreldkampioen en op die draaiersvriendelike baanblaaie van die VAE behoort die span van die subkontitent die gunsteling te wees.

Die eerstekeuse aanvangskolwers behoort Clyde Fortuin en Kirwin Christoffels te wees. Laasgenoemde het verlede jaar ook die nasionale studentespan gehaal. Fortuin was verlede jaar ongetwyfeld die voorste kolwer op skolevlak in Suid-Afrika en is ook die span se paaltjiewagter.

Van die groep het slegs Christoffels, Bruwer, Bradley Bopp en Sibonelo Makhanya nog nooit die nasionale o.19-span verteenwoordig nie. Van die groep wat Indië toe was kon Ntshona, Lloyd Brown, Bradley Dial en Hayes van der Berg nie die groep haal nie.

Die span is:

Aiden Markram (Titans – kaptein), Kirwin Christoffels (Warriors), Clyde Fortuin (Cobras), Driaan Bruwer (Titans), Greg Oldfield (Dolphins), Bradley Bopp (Warriors), Sibonelo Makhanya (Dolphins), Justin Dill (Cobras), Corbin Bosch (Titans), Dayyaan Galiem (Cobras), Andile Phehlukwayo (Dolphins), Kagiso Rabada, Yaseen Valli (Lions), Jason Smith (Cobras), Ngazibini Sigwili (Warriors).

 

Comments


Leave a Reply