Menlopark kampioen van Noord-Suid T20
Menlopark van Pretoria is die eerste kampioen van die Noord-Suid T20-toernooi. Die Parkies het Centurion in die eindstryd van die toernooi vandag op die Tukkies-ovaal met vyf paaltjies in die eindstryd verslaan.
Die gewese Protea-kaptein en enigma AB de Villiers is die ambassadeur van die toernooi.
Menlopark het die loot gewen en gekies om Centurion in te stuur om eerste te kolf. Centurion het 164/7 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Die aanvangskolwer Neil Geyser (43) en Charl van den Heever (34) het die meeste van Woeries se lopies aangeteken.
Sebastiaan van Rooyen het met sy boulwerk die beste in die wedstryd gevaar en van drie kolwers vir net 42 lopies ontslae geraak.
Menlopark se aanvangskolwers, Stephan Kruger (73*) en Jaco Britz (43), het die grondslag vir die sege gelê, alhoewel die twee slegs ’n vennootskap van 47 lopies gedeel het.
Grey-kollege het veel beter krieket gespeel as wat hul vierde plek aandui. Die span se kaptein, CP Klijhans, is welverdiend vir sy skitterende vertonings met die wilgerlat as Speler van die Toernooi aangewys.
Nelspruit het Grey verslaan om die derde posisie in te neem. Die span van die Laeveld het gewys dat hy die seisoen saam met die groottes kers kan vashou. Hy behoort vanjaar ook ‘n sterk aanspraakmaker op die Noordvaal-titel te wees.
Klijnhans het twee honderdtalle se ses wedstryde gemoker om die toekenning sy eie te maak. Hy het in sy span se eerste wedstryd teen Diocesan College (Bishops) met ‘n onoorwonne 110 lopies van slegs 61 aflewerings weggetrek.
Klijnhans se twee honderdtal was teen die Hoërskool Rustenburg. Hier het hy ‘n onoorwonne 131 lopies van slegs 61 aflewerings gemoker. Hy het in totaal 329 lopies teen ‘n ongelooflike gemiddeld van 109.67 lopies per beurt tydens die toernooi aangeteken.
Klijnhans het ‘n nulletjie in sy laaste beurt teen Nelspruit gekry, nadat hy skitterend deur Ruan de Meyer uitgeloop is. De Meyer het ook later in die beurt sekerlik die vangskoot van die toernooi geneem.
In die kragmeting tussen Potchefstroom Volkskool en Wynberg Boys’ High sal die nasionale o.19-snelbouler Thando Ntini liewer van die wedstryd wil vergeet. Potch Volkies se aanvangskolwer Jannie Claassens (101*) het ‘n onoorwonne honderdtal gemoker in sy span se totaal van 250/4.
Ntini het in sy drie boulbeurte 37 lopies afgestaan sonder om ‘n paaltjie in te oes. Buiten Claassens het Martin Fourie (67) ook met sy vyftigtal onder Wynberg Boys’ High se boulers ingeklim.
Beknopte telkaarte:
Centurion 164/7 (Neil Geyser 43, Charl van den Heever 34, Nathan Fox 23; Sebastiaan van Rooyen 3/42, Stephan Kruger 1/11); Menlopark 165/5 (Stephan Kruger 73*, Jaco Britz 43, Wybri Thuynsma 19; Jonathan Vorster 1/32, Eathan Wentzel 1/32). Menlopark wen met vyf paaltjies.
Hoërskool Nelspruit 189/5 (Jacques Vosloo 80*, Tristan Parnell 57; Michael Bondesio 2/36); Grey-kollege 143 (Armandio Cavaleiro 52 (24b), Juan-Dee Olivier 42 (28b). Nelspruit wen met 46 lopies.
Potchefstroom Volkskool 250/4 (Jannie Claassens 101*, Martin Fourie 67, Awie Visser 29*; Raees Carr 2/35); Wynberg Boys’ High 172 (Cameron Tanner 69, Raees Carr 24; Jannie Claassens 3/29, Smit van Zyl 3/52). Potchefstroom Volkskool wen met 78 lopies.
Noord-Kaap 135/3 (Reeza Alexander 51*, Conor McNamara 30; Steven Naidoo 3/18); Glenwood 136/5 (Hayden Rossouw 59, Thamsanqa Khumalo 25; Mason Zacharea 3/19). Glenwood wen met vyf paaltjies.
Paarl Gimnasium 159/5 (Juan Wilson 65*, Kyle Osbourne 28; Daniel Erasmus 2/26, Nicholas Frances 2/34); St Andrew’s College 160/2 (Callum Francis 75, Murray Wilson 59). St Andrew’s College wen met agt paaltjies.
Northwood 172/7 (Andile Mogagane 75, Kairon Gopal 28, Jeremy Martins 27; Rihaz Fredericks 3/29, Anda Dilima 2/30); SACS 174/4 (Kai Curren 55, Daniel Smith 37, Robin Aspelling 33*; Samkelo Gasa 2/24). SACS wen met ses paaltjies.
Waterkloof 216/4 (Jandre Pretorius 119*, Ludwig Kaestner 55; Franco Breitenbach 3/54); Hoerskool Rustenburg 175/7 (Tiaan van Tonder 51, Stian Swanepoel 34; Hardus Coetzer 2/22, Albert Wells 2/33). Waterkloof wen met 41 lopies.
Comments