SuperSportSchools Cricket

Myburgh kolf Jansies tot Noordvaal-halfeindronde

By Hannes Nienaber , in cricket Cricket | News News , at 23 October 2017

GMDie verdedigende kampioen van die Gunn & Moore Noordvaal-reeks, Waterkloof, het Saterdag die bordjies teen Garsfontein met 74 lopies verhang om sy plek in die halfeindronde van vanjaar se reeks te bespreek. Garsfontein het net ‘n week vantevore vir Klofies met 20 lopies in die twee spanne se laaste ligawedstryd in die Noordelikes se liga verslaan. 

Klofies se groot held in die oorwinning oor Garsfontein was Sean du Plooy wat vyf paaltjies vir slegs 27 lopies platgetrek het. Garsfontein is meestal danksy sy boulwerk vir net 151 lopies uigeknikker. Waterkloof wat eerste gekolf het, het 225/9 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken. Die span se voorslagbouler Nico van Zyl (50*) het ‘n onoorwonne vyftigtal aangeteken.  

Waterkloof sal in die halfeindronde teen EG Jansen van Boksburg te staan kom. Die Jansies het Monument van Krugersdorp met 58 lopies in hulle kwarteindstryd verslaan. 

EG Jansen se WP Myburgh (121*) was met sy honderdtal aan die voorpunt van sy span se oorwinning. Jansies was egter in die moeilikheid toe hulle agtste paaltjies met die telbord op 104 lopies gekantel het. Myburgh en Ashton Rudolph (63*) het daarna kragte saamgespan het ‘n onoorwonne vennootskap van 153 lopies om die negende paaltjie te deel. 

Monument kon slegs 199 lopies aanteken met Myburgh (3/38) wat met sy draaiboulwerk ook die meeste skade aangerig het.

Ben Vorster het sy plek in die halfeindronde danksy ‘n veelsydige vertoning deur Johan Harms bespreek. Harms het 67 lopies met die wilgerlat bygedra asook met boulsyfers van 2/8 gespog in sy span se oorwinning van 51 lopies oor Hans Moore van Benoni. 

James Modiba (3/15) het ook met sy boulwerk Hans Moore se kolwers probleme besorg. 

Ben Vorster sal in die halfeindronde teen die Hoërskool Nelspruit te staan kom. Die Nellies het Saterdag vir Potchefstroom Volkskool met ses paaltjies verslaan. 

Nelspruit se Lourens Petersen (5/26) en Ewan Lombard (5/32) het elk ‘n vyftal paaltjies ingeoes om Potch Volkies tot 161 lopies in te perk. Die wenspan se Tristan Parnell (81*) het met ‘n onoorwonne vyftigtal sy span oor die wenteiken gekry.  

Beknopte telkaarte: 

Waterkloof 225/9 (Nico van Zyl 50*, Jordan Hermann 46, Ludwig Kaestner 35; Ruben van Niekerk 3/36); Garsfontein 151 (SW Kemp 43, Robert Ferreira 37; Sean du Plooy 5/27, Gideon Peters 2/22). Waterkloof wen met 74 lopies

Potchefstroom Volkskool 161 (Awie Visser 37, Vincent Viljoen 25; Lourens Petersen 5/26, Ewan Lombard 5/32); Hoërskool Nelspruit 163/4 (Tristan Parnell 81*, Divan Jacobs 26; Cobus Crowther 3/48). Hoërskool Nelspruit wen met ses paaltjies.

EG Jansen 257/8 (WP Myburgh 121*, Ashton Rudolph 63*; Dylan Luus 4/46); Monument 199 (Ethan Klaassen 68; WP Myburgh 3/38). EG Jansen wen met 58 lopies.

Ben Vorster 174 (Johan Harms 67, Jaco de la Rey 21; Adrian de Vries 3/13, Shane Wallace 3/39); Hans Moore 123 (Diaan Basson 29, Ekstras 26; James Modiba 3/15, Johan Harms 2/8). Ben Vorster wen met 51 lopies

Comments


Leave a Reply