SuperSportSchools Cricket

Nog ‘n Wege woeker met die wilgerlat vir Boishaai

By Hannes Nienaber , in cricket Cricket | News News , at 7 January 2023

Die Hoër Jongenskool Paarl het nog ‘n Wege wat weet hoe om die wilgerlat die praatwerk te laat doen.

Johan Wege (182) het met sy honderdtal op die eerste dag van die jaarlikse HJS Krieketfees in die Brugstraat-stadion teen die Hoërskool Garsfontein gewys dat hy soos sy ouer broer, Gysbert, oor die vermoë beskik om groot honderdtalle aan te teken.

Gysbert is tans vir die Southern Superstars op Krieket Suid-Afrika se Cubs-week in Stellenbosch in aksie. Johan het 186 aflewerings in sy kolfbeurt trotseer en 24 grenshoue gemoker. Tien van die grenshoue het vir die eerste keer anderkant die grenstou grond gevat.

Boishaai het hul eerste beurt van die tydkrieket-kragmeting op 369/4 gesluit verklaar. Liam Vermeulen (69*) en JJ van der Sandt (65) het met vyftigtalle ook waardevolle bydraes tot die tuisspan se totaal gemaak.

Die Garsies se Ysbere het nie ‘n tree vir die tuisspan teruggestaan nie en ‘n onbesliste uitslag afgedwing. Ettienne du Toit (84) en Xander Venter (65) het ‘n vennootskap van 139 lopies om die derde paaltjie gedeel om hul span te help om 314/8 teen uitskeityd te behaal.

Heinrich Cloete (61*) het met sy onoorwonne vyftigtal ook gesorg dat die Ysbere teen uitskeityd steeds besig was om te kolf.

Northwood se Andrew Deep (6/29) was met ‘n vyftal paaltjies aan die spits van sy span se sege oor HTS Drostdy in Worcester.

Montana van Pretoria het ‘n sege oor die Hoërskool Bellville behaal met Gustav Nel wat ‘n veelsydige vertoning vir die wenspan gelewer het.

Montana het slegs 148 lopies in hul eerste beurt aangeteken met Roald Matthee (78) wat die grootste bydrae hier gelewer het. Nel het self darem 20 lopies tot sy span se totaal gevoeg.

Bellville is daarna vir net 99 lopies uitgeknikker met Nel (3/15) wat met die beste boulsyfers gespog het. Malan du Toit het ook van drie kolwers ontslae geraak en nie ‘n enkele lopie in die proses afgestaan nie.

Somerset College sal tevrede met hul sege oor Helpmekaar-kollege wees.

Die span van net buite Somerset-Wes het 135 lopies in sy eerste beurt aangeteken met Buhle Mfunelwa (32) en Johan Rauch (20*) wat die meeste weerstand gebied het. Helpies se Wiehan Miller (3/15), Francois Lourens (3/49) en WK van der Merwe (2/7) het die tuisspan se kolwers behoorlik laat bontstaan.

Helpies kon slegs 111 lopies hierop antwoord met Ewald Haasbroek (59) wat meer as die helfte van die lopies aangeteken het. Luke Rimmer (3/19) en Troy Varie (3/20) het die meeste skade met die bal aagerig.

JTG Cricket Association se Caleb Willemse (6/39) kon ondanks sy vyftal paaltjies nie sy span van ‘n nederlaag teen Curo Durbanville red nie.

Beknopte telkaarte:

Hoër Jongenskool Paarl eerste beurt 369/4 (Johan Wege 182, Liam Vermeulen 69*, JJ van der Sandt 65, Christiaan Bourbon-Leftley 30; Nayleo Sanna 2/61); Hoërskool Garsfontein eerste beurt 314/8 (Ettienne du Toit 84, Xander Venter 65, Heinrich Cloete 61*, Deon van Huysteen 43, Dumisani Motswene 31; Christian Burger 3/74). Onbeslis.

Curro Durbanville eerste beurt 173 (Sean Dednam 50, Extras 31, Jarryd Laubscher 23*; Caleb Willemse 6/39, Malan Lubbe 3/26); JTG Cricket Association eerste beurt 93 (Benjamin Potgieter 33; Timmy Sampaya 3/17, Caleb Inglis 3/24, Jarryd Laubscher 2/14); JTG Cricket Association tweede beurt 103/4 (Motheo Kitchen 25, Caleb Willemse 23, Benjamin Potgieter 21*; Caleb Inglis 2/24). Curro Durbanville wen op eerste beurt.

Somerset College eerste beurt 135 (Extras 35, Buhle Mfunelwa 32, Johan Rauch 20*; Wiehan Miller 3/15, Francois Lourens 3/49, WK van der Merwe 2/7); Helpmekaar-kollege eerste beurt 111 (Ewald Haasbroek 59, Extras 23; Luke Rimmer 3/19, Troy Varie 3/20, Johan Rauch 2/28); Somerset College tweede beurt 62/5 (Buhle Mfunelwa 21; Xander Jackson 1/5); Helpmekaar-kollege tweede beurt 81/5 (Ewald Haasbroek 20, Xander Jackson 17*; David de Klerk 2/27, Owethu Moyi 2/31). Somerset College wen op eerste beurt.

Montana eerste beurt 148 (Roald Matthee 78, Tyler Pienaar 23, Gustav Nel 20; Ludwig Fischer 3/36, Chris Roets 2/11); Hoërskool Bellville eerste beurt 99 (Kihan Smit 33; Gustav Nel 3/15, Malan du Toit 3/0, Luhan Theunissen 2/24). Montana wen op eerste beurt.

HTS Drostdy eerste beurt 98 (Ruvan Barnard 40; Andrew Deep 6/19, Connor Wilson 2/6); Northwood eerste beurt 193/6 (Harlee Jagga 34, Thayin Kappan 31, Ziyaad Moolla 28, James Nielsen 23, Extras 21; Jaco Nortje 3/29, Kian Fourie 2/41); HTS Drostdy tweede beurt 30/5 (Gerhard le Roux 9; Thayin Kappan 2/6). Northwood wen op eerste beurt.

Comments


Leave a Reply