SuperSportSchools Cricket

SA Schools’ cricket teams for 2019 announced

By Hannes Nienaber , in cricket Cricket | News News , at 20 December 2019 Tags: , , , , , , , , ,

Luke Beaufort sal Saterdag in die voetspore van drie oudleerlinge van Grey High School van Port Elizabeth volg en die Suid-Afrikaanse Skole-krieketspan op die veld lei. 

Al drie die vorige SA Skole-kapteine van Grey – Graeme Pollock (1961), Johan Botha (2000) en Wayne Parnell (2007) het na skool Suid-Afrika se seniorspan ook verteenwoordig.

Beaufort is boonop ook as die Speler van die Week aangewys. Hy het die Oostelike Provinsie ook tot ‘n sege in die hoofwedstryd van die week teen die Westelike Provinsie aangevoer. Sy span het hiermee die toernooi as die enigste span met ‘n onoorwonne status afgesluit. 

Beaufort het ook met 316 lopies die week as die voorste lopiemaker afgesluit. Hy het sy 316 lopies teen ‘n gemiddeld van 71 lopies per beurt aangeteken. 

Die skool van die Baai het ook met sy twee verteenwoordigers in die span die meeste spelers in die nasionale skolespan. Nicholas Keevy (314) wat slegs twee lopies minder as Beaufort tydens die week aangeteken het is saam met sy skoolmaat in die uitsoekspan ingesluit. 

Slegs twee van die vyf spelers wat aanvanklik aan vanjaar se week sou deelneem wat reeds die nasionale skolespan verteenwoordig het, het weer die span gehaal. Achille Cloete (Hoer Jongenskool Paarl) en Nonelela Yikha (Hudson Park) het weer die span gehaal, terwyl die SA o.19-kaptein, Bryce Parsons (King Edward VII) en Lifa Ntanzi (Glenwood) weens ligte beserings aan die week moes onttrek. 

Die Westelike Provinsie se Jonathan Bird kon nie weer vir hom ‘n plek in een van die nasionale spanne losspeel nie. 

Ruan Terblanche (Paul Roos) wat oor die hoof vir die SA o.19-span gesien is wat volgende jaar aan die o.19-Wereldbeker in Suid-Afrika gaan deelneem het vir die keurders tong uitgesteek met twee honderdtalle tydens die week. 

Die keurders onder leiding van Victor Mpitsang het hom daarom met ‘n plek in die SA Skole-span beloon. 

Lehan Botha van Rondebosch Boys’ High sal die SA Colt-span aanvoer. Die SA Skole-span en die Colts kom Saterdag teen mekaar op die Pietermaritzburg-ovaal in ‘n T20-wedstryd te staan. Spel sal om 10:00 begin.  

Die spanne is: 

SA Skole: Luke Beaufort (Grey High, OP – kaptein), Merrick Brett (Midstream College, Noordelikes), Achille Cloete (Hoër Jongenskool Paarl, Boland), Nicholas Keevy (Grey High, OP), Mondli Khumalo (Maritzburg College, KZN Binneland), Jack Lees (St John’s College, Gauteng), Levert Manje (Jeppe, Gauteng), Odirile Modikoane (Grenswag, Noordwes), Francis Moran (Glenwood, KwaZulu-Natal), Siya Plaatjie (Wynberg Boys’ High, WP), Ruan Terblanche (Paul Roos, Boland), Nonelela Yikha (Hudson Park, Grens).

SA Colts: Lehan Botha (Rondebosch Boys’ High, WP – kaptein), Raees Carr (Wynberg Boys’ High, WP), Jordan Hermann (Noordelikes), Zeeshan Ismail (Pretoria Boys’ High, Noordelikes), Nathan Jacobs (New Orleans, Boland), Thomas Mayes (Stanford Lake College, Limpopo), Emihle Mgoqi (Dale College, Grens), Pheko Moletsane (St Andrew, Vrystaat), Thembani Ngicizela (Newlands Cricket School, WP), Daniel Smith (SACS, WP), Tiaan van Vuuren (Grey High, OP), Tumelo Yeki (Queen’s High, Gauteng). 

[powr-comments id=”01970724_1576869178223″]

Comments


Leave a Reply