Schonveldt se warrelwind hondertal blaas die Liggies uit
Estiaan Schonveldt (110) het met ‘n warrelwind honderdtal die Hoërskool Rustenburg tot ‘n klinkende sege van sewe paaltjies oor Lichtenburg gehelp.
Schonveldt het slegs 59 aflewerings trotseer in sy beurt en in totaal 21 grenshoue gemoker. Dit het tien sesse ingesluit. Rusties het danksy sy beurt slegs 21.2 boulbeurte benodig om die teiken 179 lopies vir die sege te bereik.
Schonveldt en Charl Naudé (9) het ‘n aanvangsvennootskap van 103 lopies gedeel voordat laasgenoemde been voor paaltjie deur AJ Erasmus (2/35) betrap is. Erasmus het ook van Schonveldt ontslae geraak.
Erasmus was ook met die kolf ‘n groot staatmaker vir Lichtenburg. Hy het met sy 116 lopies gehelp om sy span se kolfpoging aansien te gee. Odirile Modimokoane (4/15) en Hanro Swanepoel (4/71) het die meeste skade met die bal vir Rusties aangerig.
Nie eers ‘n skitterende boulvertoning deur Tiaan Brand kon Potchefstroom Gimnasium aanvuur tot ‘n oorwinning oor Potch Volkies nie. Brand het van ses kolwers ten koste van 56 lopies ontslae geraak.
Volkies het egter steeds daarin geslaag om 309/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aan te teken. Christopher de Freitas (73) en Lohard Janse van Rensburg (68) het ‘n vennootskap van 125 lopies om die sesde paaltjie gedeel.
Gimmies kon daarna slegs 163 lopies daarop antwoord voordat hulle uitgeknikker is. Frans Viviers (56) het met sy vyftigtal die meeste teenstand gebied.
Van Zyl Smit (3/36), Stefan Fourie (3/41) en Gerhard Visser (2/14) het almal met hul boulwerk vir Gimmies probleme besorg.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Lichtenburg 178 (AJ Erasmus 116, Lohan Hefer 26, Odirilie Modimokoane 4/15, Hanro Swanepoel 4/71); Hoërskool Rustenburg 179/3 (Estiaan Schoenveldt 110, W Eckhard 30*, Hanro Swanepoel 25*; AJ Erasmus 2/35). Rustenburg wen met sewe paaltjies.
Potchefstroom Volkskool 309/9 (Christoper de Freitas 73, Lohard Janse van Rensburg 68, Ekstras 38, J Viljoen 37, Niel Janse van Vuuren 34; Tiaan Brand 6/56); Potchefstroom Gimnasium 163 (Frans Viviers 56, Martin Landman 26; Van Zyl Smit 3/36, Stefan Fourie 3/41, Gerhard Visser (2/14). Potch Gimmies wen met 146 lopies.
Comments